Die belangrikheid van Sensus ’96

Gedurende Oktober 1996 is die bevolking van Suid-Afika getel as gelyke burgers in ‘n demokrasie. Dieselfde metode is gebruik om almal te tel. Die bekendmaking van die resultate van Sensus ’96 is ‘n belangrike gebeurtenis in Suid-Afrika. Inligting oor die land in sy geheel, oor elke provinsie en oor stede, dorpe, en ander kleiner gebiede in die land is nou beskikbaar. Die nasionale, provinsiale en plaaslike regerings kan nou hulle beplanning baseer op gedetailleerde inligting oor hulle gebiede. Die bevolkingsensus sal die private sektor in staat stel om meer te wete te kom oor, onder andere, die leefwyse van die ons land se mense, asook hoe om hul teikenmarkte te benader.

Sensus ’96 sal ook dien as basis om veranderinge in mense se lewensomstandighede oor die verloop van tyd te bepaal. ‘n Mens sal byvoorbeeld kan vasstel of mense se inkomste en opvoedingsvlakke verbeter het, en of toegang tot behuising en toegang tot skoon water, elektrisiteit en telefone verbeter het.

Terwyl dit belangrik is om te weet dat daar gedurende Sensusnag (9 tot 10 Oktober 1996) 40,58 miljoen mense in Suid-Afrika was, is dit ook belangrik om meer van hulle lewensomstandighede te weet. Die omvattende vrae wat gedurende Sensus ’96 gevra is, vertel ons meer van Suid-Afrikaners se lewenswyse.

Provinsiale ontledings is nodig om te bepaal waar uitgawes vir ontwikkeling benodig word. Sensus ’96 het Stats SA in staat gestel om die land, provinsie vir provinsie, te ontleed. Die provinsie met die meeste mense in 1996 is KwaZulu-Natal, met 8,4 miljoen. Die tweede meeste is Gauteng met 7,3 miljoen, gevolg deur die Oos-Kaap met 6,3 miljoen mense. Die provinsie met die minste inwoners, naamlik 800 000, is die Noord-Kaap, hoewel dit ook die provinsie is wat die grootste oppervlakte beslaan, naamlik 361 830 vierkante kilometers.

Beplanning rondom die verstedelikingsproses kan nou ondersteun word, deurdat besonderhede van stedelike bevolkings beskikbaar is in Sensus ’96. Meer as die helfte van die bevolking (54%) het tydens die sensus in stedelike gebiede gewoon. Gauteng is die digsbevolkte stedelike gebied (97%), terwyl die laagste stedelike bevolking in die Noordelike Provinsie (11%) is.

Bevolkingsgroep bly ‘n belangrike klassifikasieveranderlike en word ook in internasionale sensusse gevra. Hierdie veranderlike is aangespreek in die vraelys van Sensus ’96, maar dit was gebaseer op self-klassifikasie, eerder as volgens die amptelike definisie soos dit in die verlede gebruik was. Meer as driekwart van die bevolking het hulself as swart (77%) geklassifiseer, terwyl ‘n bietjie meer as een uit tien (11%) hulself as blank en minder as een uit tien (9%) hulself as kleurling geklassifiseer het. Die Indiër-/Asiërbevolkingsgroep is die kleinste met slegs 3%.

Die taal van alle inwoners is met ewe veel agting gedurende Sensus ’96 hanteer. Vraelyste is beskikbaar gestel in al die amptelike landstale. Die mees algemene eerste huistaal is isiZulu (23%), gevolg deur isiXhosa met 18%. Veertien persent Suid-Afrikaners se huistaal is Afrikaans teenoor 9% wie se huistaal Engels is.

Menslike hulpbronontwikkeling begin met belegging in opvoeding. Vir die eerste keer het ons nou ‘n volledige onderwysprofiel van ons land. Deur sensusdata te gebruik, kan beter beplan word vir onderwys. Ongeveer een uit elke vyf (19%) Suid-Afikaners bo 20 jaar het geen skoolopleiding ontvang nie, terwyl slegs 6% oor naskoolse kwalifikasies beskik. Die provinsie met die grootste aantal mense wat nooit skool bygewoon het nie (37%) is die Noordelike Provinsie, terwyl die Weskaap die laagste nie-skoolbywoning (7%) het.

Sensus ’96 stel beplanners in staat om die inkomste van mense en huishoudings te meet. Inkomste in Suid-Afrika is oor die algemeen laag aangesien meer as ‘n kwart van die werkende persone (26%) R500 of minder per maand verdien het gedurende Oktober 1996.

Die tipe werk wat persone doen, is ook gevra. Stats SA het gevind dat 30% van die werkende bevolking poste in elementêre beroepe soos huiswerkers en straatveërs beklee het, terwyl 20% hulself in bestuurs-, professionele, semi-professionele en tegniese poste bevind het.

Sensus ’96 stel ons ook in staat om die omvang van probleme vas te stel, nie net ten opsigte van inkomste nie, maar ook ten opsigte van lewensstandaarde en lewensomstandighede. Ongeveer een uit elke ses (18%) huishoudings bly in tradisionele wonings; en ongeveer een uit elke ses (17%) woon in plakkershutte, terwyl 63% in formele huise, woonstelle of kamers bly.

Elektrisiteit vir beligting is beskikbaar in 58% van die huishoudings, terwyl 29% nog kerse gebruik en 13% paraffien. Vir kookdoeleindes het 47% van die huishoudings in Suid-Afrika elektrisiteit gebruik, 23% hout, 22% paraffien en 3% steenkool. Minder as die helfte van Suid-Afrikaanse huishoudings (45%) het kraanwaterin hul wonings.

‘n Ander eerste vir Stats SA en Sensus ’96 was die paralelle, gelyktydige ontwikkeling van ‘n geografiese inligtingstelsel (GIS). Die sensusopnemersgebiede is vasgelê op die GIS en sensusinligting word direk aan die gebiede gekoppel. Hierdie koppeling gee toegang tot demografiese en sosio-ekonomiese variante, wat geïnkorporeer word om ‘n geografiese beeld van die land te gee.

‘n Wye reeks sensusprodukte word beplan. Gratis produkte van ‘n meer algemene aard vir wye verspreiding in gedrukte vorm sal landswyd versprei word aan biblioteke, skole, gemeenskapsorganisasies, besighede en staatsdepartemente. Elektroniese weergawes sal op die Internet beskikbaar gestel word. Die produkte sal ook beskikbaar wees vir die algemene publiek by Stats SA se hoof- en provinsiale kantore landswyd. Die produkte wat meer tegnies van aard is, sal direk van Stats SA se hoofkantoor verkry kan word.

Spesiale versoeke met betrekking tot ‘n spesifieke gemeenskap, plaaslike gebied, dorp, voorstad, plaaslike oorgangsraad, distriksraad of provinsie, kan in die vorm van ‘n stel standaardtabelle, of gemeenskapsprofiele, by Stats SA se hoofkantoor of provinsiale kantore verkry word.

Vir persone wat graag hul eie tabelle, op enige vlak van ‘n opnemersgebied opwaarts wil saamstel, is die nuutste tegnologie beskikbaar, naamlik Community Profile databases with GIS. Dit word tans voorberei. Dit is gebaseer op klein-area karteringstegnologie wat die gebruiker in staat stel om sy of haar eie demografiese en ander sensusinligting in te voeg deur gebruik te maak van gebruikersvriendelike wys en kliek tegnologie op ‘n persoonlike rekenaar.

Terug na inhoudsopgawe