Beste sensusprodukte nog

"Die produkte van hierdie sensus is in twee opsigte volkome verskillend van vorige sensusopnames," sê Dr Mark Orkin, Hoof van Statistiek Suid-Afrika (voorheen SSD). "Daar is eerstens gratis publikasies. Ons gee die basiese sensusresultate gratis terug aan die mense van Suid-Afrika."

"Boonop is daar ‘n aantal nuwe elektroniese produkte op kompakte skyf met blitsvinnige verwerkingsagteware, wat ongekende aanpasbaarheid bied aan professionele gebruikers van die sensusdata," het Orkin verduidelik. "Hulle sal groot sensusdatabasisse gegrond op GIS op ‘n Pentiumrekenaar kan laai en hulle sal binne sekondes hul eie tabelle, grafieke en ontledings kan produseer."

Die voorlopige vrystellingsdatum vir die databasisse met GIS is Februarie. "Soortgelyke pakkette is nog nooit in Suid-Afrika gesien nie. Die sensusse in die VK en die VSA sal eers oor vyf jaar in hierdie formaat beskikbaar wees. ‘n Mens kan sê dat hierdie die Afrika Renaissance in sensusstatistiek is." het Orkin gesê.

"Daar is ook die gewone gebruikers. Ons wil graag hê dat mense toegang tot ons statistiek moet hê, sodat hulle ingelig kan wees wanneer hulle besluite moet neem," beklemtoon Dr Ros Hirschowitz, Hoofdirekteur: Navorsing en Ontwikkeling by Stats SA. Stats SA sal sy produkte aan staats- en ander biblioteke lewer, en sal sleutelvrystellings op Stats SA Webtuiste beskikbaar stel, sodat Internetgebruikers kosteloos daartoe toegang kan hê.

Mnr Pali Lehohla, Hoofdirekteur: Demografie by Stats SA sê: "Ons wil die resultate teruggee aan die Suid-Afrikaanse bevolking om almal te bedank vir hulle entoesiastiese ondersteuning van Sensus ’96. Hierdie statistiek behoort aan die volk. Onder ons beste "teruggee"-produkte is die "Census in Brief" en "The Count and How It Was Done", wat ‘n blik gee op die lewens van Suid-Afrikaners."

Gratis sensusprodukte is beskikbaar by Gebruikersnavrae by telefoon (012) 310-8600 of faks (012) 310-8500 en op Stats SA Webtuiste: http://www.statssa.gov.za/

Terug na inhoudsopgawe