Die Verbeteringe in Sensus '96 Die Sensus 96-resultate wat Dinsdag deur President Mandela in Pretoria bekendgemaak is, "bevat verskeie belangrike nuwighede," aldus Dr Mark Orkin, hoof van Stats SA. "Al die inwoners in ons nuwe demokrasie is vir die eerste keer eenders behandel," het Dr Orkin gesê. Huishoudings, insluitende landelike gebiede en informele nedersettings, is op dieselfde manier in alle dele van die land besoek. In die vorige sensus is skattings met behulp van lugfotos in baie gebiede gedoen, of dié dele is heeltemal uitgelaat en is skattings later gedoen op n twintigjaar oue demografiese model. In 1991 is die sensusvraelyste net in Engels en Afrikaans gedruk. Hierdie keer kon respondente in elke huishouding hulle eie taalkeuse uitoefen wanneer hulle die inligting verskaf het deur n onderhoud of deur n vorm te voltooi. "Vraelyste was in al elf amptelike tale beskikbaar," het Mnr Pali Lehohla, die Hoofdirekteur van Sensus, gesê. "Die drukwerk het soveel as n duisend goedgevoerde bulle geweeg die verspreiding van vraelyste aan 100 000 sensusopnemers was n reuse onderneming." In teenstelling met vorige opnames, was die opsommende opname van Sensus 96 landwyd en onmiddellik ná die sensusopname gedoen. "Dit word gedoen om n raming te maak van die aantal mense of huishoudings wat onvermydelik in elke sensus oorgeslaan word," het Dr Ros Hirschowitz, Hoofdirekteur van Navorsing en Ontwikkeling by Stats SA, verduidelik. Die mees ervare opnemers by Stats SA het een persent van die sensus se "opnamegebiede" weer besoek, deur die huishoudings van nuuts af aan te merk en hulle te besoek om die opname te bevestig. Die resultaat van hierdie oefening is oor n tydperk van ses maande, per huishouding en individu, met die resultate van die sensus vergelyk. Dit het n verbeterde aanpassing van onderopname tot gevolg gehad, en het rekening gehou met dié mense wat oorgeslaan is. "Na ons wete is só n vergelykende proses nog nooit voorheen vir n hele land aangepak nie," sê Pali Lehohla, Hoofdirekteur van Sensus. "Ons het bevind dat landelike respondente te maklik aangedui het dat lede van die huishouding in die oorspronklike sensus bereik is." Die aangepaste onderopname is 10,6%. Dit stem ooreen met n toename van 2,6 miljoen oor die voorlopige skattings wat verlede jaar bekendgestel is, en gee n meer akkurate nuwe totaal van 40,58 miljoen in Oktober 1996. In Sensus 96 is die data vir die eerste keer in nege provinsiale sentra verwerk om opleiding en werkverskaffing te versprei. Die vraelyste was gekodeer en in rekenaars verwerk deur 5 000 kontrakwerkers wat in skofte gewerk het. |