Sensus '96: Nasionale Resultate Die finale resultaat van die Bevolkingsensus is nou beskikbaar. Hierdie sensus omvat alle Suid-Afrikaners as gelyke burgers van n demokrasie. Dr Mark Orkin, Hoof van Stats SA, het vandag aangekondig dat daar gedurende die nag van 9/10 Oktober 1996, 40,58 miljoen mense in Suid-Afrika was. Hierdie berekening is gefinaliseer nadat n aanpassing vir ondertelling gemaak is. Die resultate "is n spieëlbeeld van ons reënboognasie", het Dr Orkin gesê. Die mees algemene huistaal is isiZulu, wat deur 23% van die bevolking gepraat word, terwyl isiXhosa die huistaal van 18% mense is. Afrikaans is die huistaal van ongeveer 14% Suid-Afrikaners, terwyl 9% Engels as huistaal praat. Meer as die helfte van die bevolking (54%) woon in stedelike gebiede. Gauteng het die hoogste verstedelike bevolking, naamlik 97%. Aan die onderpunt van die skaal is die Noordelike Provinsie, waar slegs 11% van die bevolking in stedelike gebiede woon. Dr Orkin het ook gemeld dat die sensusresultate n gesaghebbende nuwe opvoedkundige profiel van die land blootgelê het. Hoewel 6% Suid-Afrikaners naskoolse kwalifikasies het, het 19% Suid-Afrikaners wat 20 jaar of ouer is, nog nooit 'n skool bygewoon nie. Daar is ook groot inkomsteverskille. Aan die een kant het n kwart van die mense wat werksaam is, meer as R2 500 per maand verdien. Aan die ander kant het n kwart R500 of minder per maand verdien. "Beide geslag en bevolkingsgroep het n groot effek," het Dr Ros Hischowitz, Hoofdirekteur van Navorsing, opgemerk. "Een derde blanke vroue vergeleke met twee derdes blanke mans verdien meer as R3 500 per maand. Maar slegs een uit elke twintig swart vroue of mans val in hierdie kategorie." "Die sensus bevat ook omvattende inligting oor huishoudings. Dit sal beplanners in staat stel om meer akkuraat te wees, en verskaf ook n afspringpunt om verbeterings te monitor," het Dr Orkin gesê. Vyf en sestig persent van alle huishoudings woon in formele huise, woonstelle of kamers; terwyl 18% van huishoudings in tradisionele wonings en n verdere 17% in pondokke woon . "Hierdie sensus is uniek omdat inligting beskikbaar is tot op die vlak van voorstede en gehuggies," het Dr Orkin bygevoeg. Minder as die helfte van Suid-Afrikaanse huishoudings (45%) het kraanwater in hul wonings. Elektrisiteit word deur 58% van die huishoudings gebruik vir beligting, terwyl 29% steeds kerse en 13% paraffien gebruik. Meer as n driekwart van die mense (77%) beskou hulself as swart, 11% beskou hulself as blank en 9% as kleurling. Die Indiër-/Asiërgemeenskap is die kleinste groep (3%). KwaZulu-Natal is die provinsie met die meeste mense (8,4m); Gauteng het 7,3m en die Oos-Kaap het 6,3m. Hoewel dit die grootste provinsie is, het die Noord-Kaap die minste mense (0,8m). n Sakgrootte opsomming van die resultate met tabelle en grafieke, "Census in Brief", is gratis beskikbaar van Stats SA. |