Nasionale Bevolkingsensus - Finale resultate aangekondig

Stats SA het vandag die uitslag van Sensus ’96 wat aantoon dat die land se bevolking 40,58 miljoen is, aangekondig. Tydens ‘n loodsing wat deur 200 mense bygewoon is, het Stats SA die uitslag van hierdie mees omvattende landwye opname aan President Mandela voorgelê.

Die Sensus bevat ‘n magdom inligting wat ‘n betekenisvolle invloed sal hê op die beplanning vir ‘n beter lewe vir alle Suid-Afrikaners. Vir die eerste keer in ‘n kwarteeu is Suid-Afrikaners in elke deel van die land bereik. Stats SA is oortuig dat Suid-Afrika nou oor akkurate syfers rakende die samestelling van sy bevolking beskik.

Die Statistiekraad, ‘n onafhanklike statutêre liggaam wat uit deskundiges en gemeenskapsverteenwoordigers saamgestel is, is daarvoor verantwoordelik om beheer uit te oefen oor die gehalte van statistiek in die land, en veral van die sensus. Hierdie raad het by die Minister van Finansies aanbeveel dat die Sensus ’96 uitslag amptelik aanvaar word.

Die sensusprojek het in Oktober 1996 ‘n aanvang geneem toe honderde sensusopnemers deur die stede, dorpe, woongebiede, informele nedersettings, gehuggies, plase en plattelandse areas van ons land getrek het om die besonderhede in te samel van mense uit meer as nege miljoen huishoudings. Haweloses, hostelle, tronke en ander instellings is ook besoek om te verseker dat ‘n omvattende opname gedoen word.

Sensus ’96 het ‘n eenvorminge metode gebruik om die enorme hoeveelheid inligting te versamel. Huishoudings is besoek en besonderhede omtrent al die inwoners is van ‘n verteenwoordiger verkry deur ‘n onderhoud of ‘n vraelys wat ingevul is, in die taal van daardie persoon se keuse. Die data is daarna in rekenaars ingevoer en aangepas vir ondertelling.

Terug na inhoudsopgawe